As mens op jou bed sit en Dana Snyman se Onder die Radar lees (dankie Agtersitplekvensterdromer) en die laatsomer Saterdag son se laaste strale deur jou onoopmaakbare venster die boek se bladsye verhelder word mens sommer op 'n reis van heimweë geplaas na dae wat lank reeds vergaan is.
Soos Dana vertel van sy kinderdae in ons land se droeë intern, daar in Kuruman se wereld, word ek ook vlugtelik na my eie kinderdorpe van Hondeklipbaai, Koingnaas en Kleinzee vervoer in die soorgelyke droeë, maar helder Namakwaland. My eie en Dana se lewensverhale is nie noodwendig dieselfde nie, maar vanuit elke bladsy tap daar gevoelens en emosies wat my terugneem na Suid-Afrika. Die woorde van elke bladsy laat my ook terselfde tyd die verlede met die hede en die toekoms kontrasteer. Dis ongelooflik hoe baie ons Afrikaner volk verander het in die afgelope 30 jaar. As 'n 21 jarige jongman het ek die voorreg om deel van die ewolusie van ons volk en mense te wees. Ons word intern gewroeg deur destydse mantras dat die Afrikaner by die suidpunt van Afrika geplaas is deur God om beskawing na die mense en die land te bring en hedendaagse ontnugtering waar honderde duisende Afrikaners die land verlaat en heeltemal afvallig word van ons erfenis, godsdiens en geskiedenis.
Dit is verseker 'n interessante tyd om Afrikaans te wees, veral iemand soos myself wat hier aan Amerika se suidpunt sit. Ek het die voorreg van 'n uitkyk wat toelaat dat ek ons kultuur en mense se ewolusie dop te hou met minder partydigheid as een wat tans in ons kulturele warboel is. Dit blyk of ons stry of ons ons taal, kultuur en leefwyse moet prysgee en liewer konformeer met die internasionale gemeenskap van Engels praat, internet lewens lei, tegnologies gedrewe wees en liberale denkwyses aanneem of die ander kant van die munt verg weer dat ons soos die Israeliete van ouds vasklou aan oorbleefsels van 'n tyd van ossewa bestuur en nie-Afrikaners uit sluit uit ons lewens. 'n Mens kan nogal hierdie stryd van tradisie teen modernisme in ons musiek sien. Die Steve Hofmeyrs en Bok van Blerke van die wereld speel op bang Afrikaners se gevoelens om ons te laat dink dat ons kultuur aan't uitsterwe is. Die Fokofpolisiekarre en Die Antwoorde is weer helde van die renegate en afvalliges want hul spreek na kwessies soos vertroue aan God, konformisme aan die Afrikaner kultuur en isolasie van die buitewereld.
Hierdie generasie van ons jongmense is seker die belangrikste sedert die Voortrekkers, al weet ons dit nie. Dit gaan in ons hande wees of ons die Afrikaner nasie oor 100 jaar slegs in die anale van geskiedenis kan opspoor, omdat ons heeltemal geassimileer het met die globale kultuur, of dat jy nog die bittereinders gaan vind daar in Orania, afsgesluit van die wereld.
Dit is in ons hande om ons kultuur die 21ste eeu in te neem; om 'n fyn balans te tref tussen tradisie en verandering.
Kom ons sien waarna it als na gaan lei
DieAlleenige