Sunday 31 July 2016

Oom Johan se Gebed

Ons kom hier te stane voor U, Here, met die wete dat U almagtig, sowerein en unstuitbaar is
U neem weg en U gee - na gelang van U eie willkeur
Niks vind plaas daarsonder nie.

 

Vandag het ons lening van oom Johan verstryk by U
Sy tyd het gekom om weer terug te keer na die werklike land van melk en heuning
Al die vrae wat ons nog ooit gehad het, al die wonders wat ons gewonder het,
Al die gedagtes wat ons gedink het – hy weet dit nou
Hy ken dit nou
Nes U alomteenwoordig is, is hy ook nou
Hy het ons vermaak met sy sieninge en uitsprake oor die lewe vanuit beperkde kennis
Ons kan onsself net indink al die wonderlike sieninge wat hy nou het oor die heelal met onbeperkde kennis!
Ek hoop rerig U neem dit vir ons op video sodat ons ook eendag daarin kan verheug
Ek weet U sal – U is daai tipe God

 

Die wonderlike ding van die dood is dat dit inderwerklikheid vrede bring vir die afgestorwene
Kan ‘n mens dan iets beters vra as om alwetend, alomteenwoordig en woonagtig in ‘n stad van goud te wees?
Nee wat, ek dink hy geniet nou sy gate uit in die Paradys!
Die tragedie van die dood is egter by ons sterflike skepsels steeds hier op aarde.
Jitte Here, dis darem ‘n hartseer besigheid!
Ons kan hom nie meer sien nie!
Nie meer na sy stories luister nie!
Nie meer die plaas aan hom ruik nie!
Nie meer sy hande in ons hande voel nie!
Geen wonder ons sit met soveel pyn nie.
As daar ooit ‘n tyd in hul lewens was, is dit nou om by hierdie sterflikes te wees.
Kinders Johannes en Anneke, broers Gert en Pieter, suster Gesina, vriende, neefs, niggies, vriende, geliefdes, kollegas, student – Here, dié mense roep uit na U vir antwoorde, genade en verlossing
Ek bid dat U by hulle mag wees.
Laat die angel van die dood hulle nie te veel laat ly nie.

 

Inteendeel, Here, laat ons wat nog op Aarde gespaar is, liefs verder gaan as begrafnis hou, treur en tob
Here, laat ons sy nalatenskap op Aarde voortvat en ter ere van hom leef
Laat sy lewe, wat nou slegs te vinde is ons harte, onsselwe aanspoor om die wereld ‘n beter plek te maak.
Laat ons nie sy nalatenskap onaangeraak laat nie – laat dit tot die uithoeke van die wereld gaan om sy tydjie hier op Aarde ietwat te verleng; al is dit slegs deur aksie

 

Ons kom hier te stane voor U, Here, met die wete dat U almagtig, sowerein en unstuitbaar is
U neem weg en U gee - na gelang van U eie willkeur
Niks vind plaas daarsonder nie.

In U Almagtige Naam Alleen bid ons dit
Amen
 

1 comment:

  1. Baie dankie, dit is troosvolle woorde en so digterlik uiteengesit! My liefste man en lewensmaat Peter (uitgespreek soos Peter van Heidi) het ons ook op 12 Mei verlaat. Ek het sy hand vasgehou totdat die ou hart te moeg geword het om aan te hou en hy oorgestap het... 'n maand en 'n half voordat hy 79 sou word. Geseënde week vir jou. Henrietta Klaasing.

    ReplyDelete