Saturday, 25 January 2014

Danksy Ons Vaders - Hoekom Geskiedenis Belangrik Is

Ek put baie genot daaruit om meer oor geskiedenis te leer.  Enige geskiedenis, rerig.  My gunsteling tydperk is egter vanaf die Neolitiese Rewolusie van omtrent 10 000 v.C. tot die val van die Westelike Romeinse reik in die jaar 476.  Sommige hou glad nie van vroeë geskiedenis nie, want hul glo dat dit glad nie van toepassing meer op ons vandag het nie.  Op sigself sou dit moeilik wees om nie saam te stem nie.  Ek meen as 'n mens net terugdink aan hoeveel die wêreld reeds sedert die 1950's verander het, is dit ondenkbaar om te peil hoe die wêreld in byna 2 000 jaar verander het.  Ons is heelwat anders as mense van die 1950's byvoorbeeld.  Minder preuts, meer liberaal, meer gekonnekteer deur wyse van die internet, ryker, beter opgevoed, langer lewensverwagtinge, meer berese, ens.  Die lys kan moontlik nie op hierdie blog pas, sou ek vlugtig moes opnoem hoeveel ons van die antieke kulture verskil nie.  Of sou dit nie pas nie?
 
Die heel eerste ding wat geskiedenis aan jou oordra is 'n meer oop gemoed en verstand.  Jy leer dat daar meer in die lewe is as om net voort te gaan en te jaag na die volgende sonopkoms.  Jy leer van hoe skynbare kranksinnige mans en vrouens op 'n skuit geklim het en 'n rigting ingeslaan het.  Daar was geen waarborge nie.  Jy mag dalk oor 4 maande wal slaan aan 'n landstuk wat vloei van edelstene en lekkernye of jy mag dalk deur die berugte meerminne of seerowers van kant gemaak word.  Dit is al te maklik om aan pionierende skeepvaarte te dink in moderne terme.  Ons kan gou Google Maps oopmaak en 'n goeie roete van Portugal na Indië karteer.  Ons kan navorsing doen van hoe ons baie reën langs die sentraal-Afrika kus sal ervaar en hoe ons moet wyk by die Kaap van Storms.  Ons sou satelliet selfone saamneem ingeval ons dalk gestrand word op Madagaskar.  Ons sou Google Translate kon saamneem om te vertaal wat die Indiese handelaars ons prober vertel.  Vir reisigers soos Da Gama en Dias was nie een van daardie dinge waar nie.  Hulle het net stories gehoor van die inwoners van lande soos Ethiopië en Mali van hoe daar lande suid van hulle lê, maar waar geen mens al heen gegaan het nie.  Hul het figuurlik blind by die Wes-Afrika kus afgeseil en gehoop hul sou nie by die kant van die wêreld afval nie!  Wat 'n sig was dit nie om by die Kaap aan te kom en Tafelberg en Valsbaai in hul natuurlike majestie te sien nie!  Dit is altyd vir my wonderlik om te dink hoe mense van ouds 'n kaal stuk land wat duisende kilometres weg van beskawing is kon sien en sê, "Hier gaan ek 'n nasie bou." 
 
Nie net het ons die groot reisigers te danke vir die wêreld wat ons vandag ken nie, maar ook ons vaders en moeders van regoor die spektrum van mensegeskiedenis.  Hiermee verwys ek meerendeels na die die wat hul lewens opgeoffer het vir die relatiewe gemak wat 'n gedeelte van ons kan ervaar.  In die tyd van die antieke Grieke was al politiese sisteem bekend aan hul monargie en militêre diktatorskappe.  Tydens die Goue Tydperk van die Grieke het vele denkers voortgekom wat ons tot vandag nog groot ag - Plato, Aristotle, Hippocrates, Archimedes, Pythagoras, Ptolemy, ens.  Pericles was ook 'n groot denker asook 'n groot doener.  Dit kan geredeneer word dat hy die vader van demokrasie is soos ons dit vandag ken.  Dink terug in 'n wêreld waar mans met die grootste swaard  en meeste goud geregeer het, was daar 'n man met die waagmoed wat kon sê dat elke lid van die gemeenskap 'n sê kan hê in hoe hul regeer moet word.  Dit was waansin, maar die Ateners het die vroeë vorm van demokrasie aangeneem.  Soos geskiedenis neig om te verloop het hierdie nuwe idee nie sonder teenkanting gekom nie.  Die Ateners moes hul man staan teen hul eie broers van van die ander Griekse polisse (Stad-state) en later teen die magtigste ryk wat die wêreld nog tot op daardie stadium gesien het - die Persiese Ryk.  Danksy oorwinnings by slagte soos dié van Maraton en, hoewel dit nie 'n militêre oorwinning was nie, maar ideal-oorwinnings soos die by Thermopylae, het die idee van demokrasie die sward oorleef.  Die Romeine sou ook 'n vorm van demokrasie eersklaps aanvaar en later sou die Westerlike wêreld ook demokrasie aanvaar.  Ons het die bloed van ons Griekse vaders te danke dat ons vandag in lande kan woon waar ons (hoewel baie klein en soms weens ander euwels, nuttelose) 'n rol kan speel in hoe ons regeerders ons lei.  Ons hoef in vrees te lewe dat die koning more sy verstand gaan verloor en besluit om alle seuns onder 2 jaar te vermoor nie.  Ons kan in relatiewe vrede met mekaar en ons regeerders lewe.  Te min mense, in my opinie, is dankbaar vir die bloed van biljoene mans en vrouens wat eeue voor ons gelewe het, om die lewe wat ons vandag ken te verseker.
 
Mans en vrouens het hulself oortuig dat ideale soos vryheid, gelykheid, demokrasie, ens. die moeite werd is om voor te sterf.  Danksy dit wat hul in hul lewens vermergel het en die feit dat hul tot die dood getrou was aan hul ideale, kan ons vandag lewe met daardie ideale.  Ons aanvaar dit gans te veel as vanselfsprekend.  Nee, seun, ons kon nie altyd almal lees en skryf nie, ons kon nie altyd almal 3 etes 'n dag bekostig nie, ons kon nie almal 'n warm stort vang en daarna in 'n warm bed inklim nie.  Ons moes deur baie millennia van swaarkry gaan om te kom waar ons vandag is.
 
Baie van ons gaan sit nou op ons louere, want die lewe is lekker en ons hoef nie elke dag 6 ure te spandeer om hopelik kos vir die gesin bymekaar te maak nie.  Daar is egter steed biljoene mense in die wêreld van vandag wat nie deel het in dit waarvoor biljoene reeds hul lewens opgeoffer het nie.  Daar is werk.  Daar is lewens om aan te raak.  Daar is mense om glimlagte op hul gesigte te sit.  God alleen weet hoeveel biljoene se lewens nog opgeoffer moet word, voordat almal in die lewe kan deelhê soos ons dit vandag ken en of dit ooit gaan gebeur voor die mensdom se onafwendbare einde.  Dit sleutel is dat ons egter elke dag steeds moet voortbou op wat ons voorvaders gedoen het.
 
Miskien, net miskien, mag ons eendag terugkyk en sê: "Ons het dit gedoen!"
 
Vrede
TheLonelyman

No comments:

Post a Comment