Ek gaan darem so af en toe ook Afrikaanse stukke skryf, die dat ek eintlik Afrikaans is. 'n Mens bereik net meer mense deur in Engels te skryf. Afrikaans > Engels ek moet dit net noem! Hierdie stuk is reeds byna 2 maande oud, maar dit was 'n groot ervaring in my lewe en ek wou dit graag hierso deel. Die korter Engelse weergawe van hierdie stuk het 5 keer meer likes op Facebook gekry, al sien ek hierdie stuk eintlik as 'n beter weergawe van my ervaring. Helaas, geniet dit.
Vandag merk die dag wat ek uiteindelik die einde van my baard-reis bereik het! Vir 365 dae vanaf 25 November 2012 tot 25 November 2013 (dus het my baard ‘n volle omwenteling om die son voltooi!!) het ek my gesig...hare (baard en snor) geensins verkort of verwyder nie,. Dit was ‘n baie besonderse ervaring waaruit ek vele dinge wys geraak het. Ek deel dit met jul (brace yourselves, dit gaan lank wees)
So ja, die werklike rede waarom ek die baard-reis aangeneem het gaan ek ongelukkig nie in die openbaar openbaar nie. Ek kan wel met jul die ander redes, die ervaringe, die positiewe en die struikelinge vertel van ’n jaar wat my lewenslank sal bybly. So, ons as Afrikaners en Suid-Afrikaners lewe in ‘n kultuur waarin jou voorkoms vir die gemiddelde mens iets belangrik is. En wanneer ek sê voorkoms dan bedoel ek goeie voorkoms. En wanneer ek sê goeie voorkoms dan bedoel ek “jy jongman/vrou sal in hierdie klein boksie inpas van wat ons kultuur as ‘netjies’ en ‘aanvaarbaar’ beskou en as jy hiervan afwyk is jy erger as ‘n heiden”. Na gelang van ons mense se definisie van voorkoms het ek verseker die kluts kwyt geraak. By Interskole het stringe mense my aangekyk asof ek sopas uit die grot geklim het. Jong kinders sou met ‘n mengsel van verwondering en vrees opkyk na my as ek verby stap. Ooms en Tannies sou dan die verbysterede kinders bietjie nader aan hul en bietjie verder van my wegtrek en met ‘n eenvoudige handgebaar hul kinders se aandag van my af probeer kry. Ek was Moses, Noag, Jesus, pedofiel, Zeus, ens. genoem. Dis mal om te dink dat ‘n mens Jesus en pedofiel in dieselfde sin sou saamsien, maar dit was nou ek gewees vanjaar! As ek langs ‘n vreemdeling op ‘n bankie in ‘n winkelsentrum gaan sit, het ek met die kant van my oog gesien hou hulle hul besittings bietjie stywer vashou. Dieselfde het gegeld vir wanneer ek verby tannies sou stap en ek sien hoe hul hul handsakke stywer vasklou. Ek het toegekyk hoe mense staar, fluister en onderhands dinge vir mekaar sê oor my. Dit is nodig om te sê dat ek al die bogenoemde aksies en reaksies ervaar het aan beide kante van die Atlantiese Oseaan, maar ‘n lekseltjie meer in ons geliefde Suid-Afrika.
Inderdaad het die mensdom se slegte kant – die veroodeling, die onverdraagsaamheid, die oppervlakkigheid – bietjie die jaar ontsier. Die goeie nuus is egter dat die goeie, die mooi wat ek vanjaar gesien het, is wat my sal bybly. Nadat die gesigshare jou ken, jou wange en jou wangbeenlyn begin te verdoesel sodat dit die wollerige, onduidelike grens van jou gesig vorm, dan begin jy juis die veroordeling te ervaar. So, dit is juis van hierdie punt af waar jy ook die deugde in die mens kan sien, want almal sien die grotman, maar net die sterkstes onder ons gee ‘n kans vir die wese wat agter die keratienlaag skuil. In die jaar het ek geleer wie werklik nie oppervlakkig is nie. In die jaar het ek geleer watter mense het die Jesusliefde van liefde met totale verdraagsaamheid werklik uitgeleef. In die jaar het geleer dat daar nog wel hoop vir ons mensdom is. Al wens ons hoe hard dat ons “die goeie ou dae” weer mag ervaar, moet ons besef dat hul verby is. Die lewe beweeg. Die lewe gaan aan. Die lewe en die wêreld amalgameer teen ‘n vinniger pas as wat dit nog ooit verander het. Vroue kan stem, swart mense het gelyke regte as wit mense, homoseksuele paartjies mag met mekaar in ‘n huwelik staan. Ons kan nie so aanhou om te beoordeel op grond van dit wat ons sien nie. Ek is so Afrikaner soos wat ‘n mens kan wees, maar selfs my eie landgenote het my somtyds verstoot. Ek skryf nie hierdie om die Afrikaner of die mensdom af te breek nie, maar ek skryf dit sodat ons kan leer en besef dat daar meer aan die lewe is as om mense te verstoot, mense te na te kom of om onverdraagsaam te wees op grond van voorkoms, ras, geslag, geloof, nasionaliteit, ens. Ons moet liewer onsself vermoei met die voorkoms van ons naaste se hart. Ken my naaste dit wat liefde werklik beteken? Ken my naaste werklik die waarde van droom en hard werk? Ken my naaste die waarde van dink vir hulself? Kom ons vergeet van al die oppervlakkige strooi en rig liewer ons veroordeling op karakter, as ons nou die dag moet beoordeel.
Ja, oukei ek maak altyd ‘n berg van ‘n molshoop - dit is seker ook net ek wat al die bogenoemde kan kwytraak na ‘n jaar se vryheid! Ek wil een ding doen en dit is om elke jong man (miskien selfs die jong vroue ook, hmmm?) daar buite aan te moedig om iets soortgelyk aan te pak in hul lewe. Jy leer die mens ken, jy leer vir God ken en jy leer ken jouself. En die beste van als? Jy sien wie jou werklike vriende is – die wie verder as die vel kyk.
Maar nou’t ek weer gaan konformeer na die die gemeeskap-standaard van baardloos wees, ai dit blyk amper of ek ‘n huigelaar is...
Hoe dit ook al sy, vrede vir jou, leser!
DieAlleenige
Sjoe dit was verseker n ongelooflike ervaring vir jou! Ja ons as mens is meestal oppervlakkig...judging a book by its cover..maar die lewe maak dat ons reageer op dit wat jy SIEN...en in jou geval het jy dit eerstehands ERVAAR... die voordeel wat jy het is jy kon skeer en weer inval in die samelewing want jou eksperiment was tydelik van aard...sadly is dit duisende ander se daaglikse realiteit..by choice though! Thanx vi die deel!
ReplyDeleteEn dit is juis die groot ding wat ek ervaar het, die oordeel wat baie mense ondervind gebaseer op hoe hul lyk. Dit gee my nou meer empatie vir die mensdom in die algemeen en maak my minder geneig om net sommer iemand te oordeel. 'n Mens moet maar eers iemand se storie ken voordat jy werklik iets kan se oor die manier wat hul hulself gedra of ten toon stel aan ander,
ReplyDeleteDankie vir die comment en lees!