So die afgelope klompie dae was nou nie die lekkerste vir my nie, dis seker waarom ek weer 'n Afrikaanse blog moet doen. Als is maar net beter in mens se hartstaal.
"Maar jy het dan anderdag so goed gedoen in die atletiek, jy moet mos bly wees?!"
Ja, dit het vir my tydelike geluk gebring. Dis die tipe geluk wat jy ervaar wanneer jy weet jy het moeite vir iets ingesit het en jy sien darem vir 'n slag 'n produk. Nee, maar dis bakgat. Ek is bly 8 jaar se oefening het my gebring tot waar ek nou is en waar ek nou is, is nog nêrens nie.
Maar my oë kyk leweloos en blank in die verte in, die verte wat deur grys wolke gepleister word en die spasie tussenin wat deur die sagte reëndruppels gevul word.
"Wat nou?" vra ek myself. "My rewolusie is verby." lamenteer ek.
Jy sien, in Amerika is die mense gaande oor die uiterlike. Dit is waarom as jy 'n rolprent of 'n Amerikaanse reeks op die televisie sien, is almal so grênd aangetrek. Hul vingers met allerhande juweliersware en jaarsalaris horlosies hang pronkerig om die gewrigte. Hare netjies gesny en in 'n sosiaal aanvaarbare norm gevorm. Geselsies volg standaardformate waar koeitjies en kalfies voorrang kry bo jou naaste se lyding. Skoene netjies gepoets.
Hm, skoene. Weet jy wat mense hier doen as jy NIE skoene aan het nie? Nee, nee, die polisie kom sluit jou darem nie toe nie, maar, om die waarheid te sê, ek is verbaas ek is nog nie toegesluit oor my kaal voete nie. Die konformiste brand 'n gat in jou siel deur hul genadeloos staar. Die ooms en tannies wip hulself oor jou tekort aan skoene en bevraagteken jou geestesgesondheid. Jy word summier geweier om in 'n eetplek in te gaan. Ja, jy lees reg. In Amerika mag jy NIE EET NIE tensy jy skoene aan jou voete nie. Nou, ons doen baie dinge verkeerd in Afrika, maar ons kommer ten minste nie oor hoe iemand aangetrek is as hul eet nie. So, was ek al 'n hele paar keer geweier om in eetplekke in te gaan, omdat die skaam nie bedek is nie. Dan vra ek die ondersteuners van die valse god, waarom ek my skoene moet bedek. Die reaksie is ongemaklike, effens geirriteerde gesigte, gevolg deur 'n repitisie dat jy skoene moet aantrek. Ek maak 'n halwe glimlag, lag in my mou en vra weer. "Uhmm, want dit is die reëls. Dit is onhigiënies."
Op daai oomblik skree die stem so diep in my middeste dat ek hulle moet teregwys. Ek wil so graag hul argument stuk vir stuk uitmekaar haal en vernietig. Ek wil SO GRAAG. Maar ja, ek is 'n lafaard. Ek mompel die kreet van my hart en haal onwillig plakkies uit my rugsak uit, duidelik het ek al dit oorgekom in die verlede.
Laterhand skryf die koerante van jou kaalvoete. Nou is ek in die publieke oog. "Kyk, daar is die kaalvoet ou!" Jou afrigters ban jou kaal voete later uit plekke waar jy daagliks moet wees. Jy druk hul geduld tot op die laaste. Jy kyk of hulle sal toegee. Hulle staan vas.
En dan op 'n grys, nat Dinsdagoggend kom jou afrigters se base en knip jou vlerke vir goed af en dan vind ek myself aan die staar na die grys horizon.
Mense, ek het probeer om die mense hierso te wys dat voete nie lelik is nie. Ek het hul probeer wys dat voete natuurlik is. Ek het hul probeer wys dat voete nie iets is waarvoor ons bang moet wees nie.
Helaas, my moeites het die tenoorgesteld veroorsaak. So, ons gaan terug na die gevoel van die atletiek. Ek het moeite in 'n ding ingesit en gehoop vir 'n sekere uitslag, maar nie net kry ek nie die uitslag waarvoor ek gehoop het nie, maar die tenoorgestelde.
So, hoe met 'n mens dan voel? Wel, ek voel ietwat depressief, ietwat soos 'n mislukking.
Ek kan die situasie verder vat, soos die groot rewolusie leiers van ouds sou, maar daar is te veel om te verloor. Deesdae heg ek ongelooflik baie waarde daaraan om vir jouself op te staan. Dit is seker maar gekoppel aan my idealisme. Ek het probeer opstaan in my geloof in Vryheid en om Amerikaners nader aan die natuur te bring, die natuur van ons eie liggaams. Hulle het my egter aan die ballas beet. As ek sou spartel of hul verder kwaad maak, dan gaan die houvas seerder word. As ek nou opgee, dan sal hul houvas verslap, maar my Vryheid ingeperk.
Hierdie is seker maar een van daardie situasies waar mense moet ingee. Maar wat is volgende? Gaan hul later vir my sê ek moet my jaar en 'n half lange hare ook skeer? Gaan hul vir my sê ek mag nie meer kortbroeke dra nie? Gaan hul vir sê om hul landslied te sing en hul regering te aanbid?
Ek hoop, om Vader's naam, hierdie is die einde van my stroewelinge met die magte bo my. Laat hul net weet dat ek nie agteroor gaan buig nie. Hierdie is die einde van my toegewings, al moet ek later meer Vryheid en/of voorregte prysgee.
Ek kan nie my hele lewe wegkruip en 'n mat wees waaroor die wêreld kan loop nie. Ek is tog ook 'n mede-mens, ek verdien tog ook menswaardige behandeling.
Ai, nou moet ek net myself hiervan oortuig
Jannaman
No comments:
Post a Comment